Ek is Jeanette Nocawe van Rayners, ‘n aktivis vir vryheid en gesondheid in die Noordelike Areas van Port Elizabeth huidiglik gevestig in Missionvale. Oorspronklik is ek van Graaff-Reinet waar ek my laerskool onderrig by Kroonvale Primêre Skool en hoërskool onderrig by Spandau Sekondêre Skool voltooi het.
Van jongs af het ek altyd gedroom om iemand in die lewe te word wat ‘n verskil in andere se lewens kan maak. Min het ek gewis dat na al my pogings en swaarkry wel vandag kan doen wat ek toe nooit eers kon aan dink nie.
Ek wou altyd ‘n groot familie hê, maar het nooit gedink dat ek die matriarg van vele sou word nie. Ek is geseënd met vier kinders, twee pleegkinders asook agt kleinkinders. Sonder al my kinders glo ek nie dat ek dieselfde mens kan wees wat ek vandag is nie. Dit is asof my gesin my ‘n ekstra wip in my stap gee wat my ‘n groter lus in die lewe gee om selfs meer te wil gee en doen vir andere.
Op die ouderdom van twintig het ek na Port Elizabeth verhuis waar ek tans in Missionvale woonagtig is. Hier is waar ek die meeste van my gemeenskapswerk verrig tussen die Bruin mense wat minder bevoorreg is en swaar kry.
In 1994 het ek by Dorbyl Automotive begin werk waarna ek by die unie (Numsa) aangesluit het. Hierdie was egter net die begin, want toe ek eers ‘n voet in die deur kry, het dit nooit wekrlik gestop nie. Ek het verder gegaan en by verskeie organisasies aangesluit in die hoop om te help veg vir vryheid en gelyke regte. Onder hierdie organisasies is die ANC, ID en daarna die DA waar ek baie meer aktief en betrokke was.
My rolmodel is Patricia Delill omdat sy bewys het dat ‘n bruinvrou kan opstaan en ‘n verskil maak. Haar sterk karakterseienskappe is vir my ‘n aansporing om ook sterk te staan in die politiek sodat ek ‘n advokaat kan wees vir die lank-vergete Bruin mense in Suid-Afrika.
Oor die jare het ek my alles gegee aan partye wat met mooi woorde en kospakkies my en die mense rondom my se harte en stem kom steel het. Baie beloftes en ooreenkomste is al gemaak deur politieke partye sonder dat veel werklik daarvan voorendag gekom het.
Nou sê jy vir my, waarvoor maak jy nog ‘n kruisie langs ‘n party wat jou probeer omkoop met goedere en jou armoed en onkunde uitbyt en dit ter wille van die meerderheid stem in jou woonarea? Nee, dit was tyd vir my om werklik te sit en dink oor wat ek moet doen om werklik ‘n verskil te maak in Suid-Afrika.
My belangstelling in Compatriots of South Africa (CSA) het ontstaan toe ek ‘n werkswinkel bygewoon het. Dit is daar waar ek ontdek het dat dit is waarna ek altyd opsoek was. Huidiglik betree ek die posisie as Adjunk Sekretaris-Generaal van CSA. By CSA is waar ek behoort.
As bruinmens moes ek altyd aan die agterste speen drink by die ander partye. Nou met CSA weet ek waarheen ek oppad is.
Deure gaan oop – ek ontdek nou my ware IDENTITEIT en my bestaansreg. Ek is trots daarop dat ek ook nou my eie kultuur kan begin uitleef.
Ons as ‘n party is eintlik nog in ons baba fase, maar in hierdie kort tyd het ons alreeds soveel gedoen om die stem en ondersteuning te werf van Bruin mense regoor die land. Daar is nie baie wat ons op die oomblik vir u kan bied behalwe die belofte dat ons sal aanhou en deurdruk totdat ons ‘n voet in die deur kan het by die partlement. Dit is maar die eerste stap en daarna sal ons kan veg vir die reg van ons volk en Vaderland.
Daar is geen rede hoekom u nie ons kan vertrou nie. CSA doen alreeds wat ons beoog om te doen, maar ons het steeds u nodig om ons te ondersteun al die pad nie die eleksies en selfs verder.
Net vir ingeval u nie eintlik weet waarvoor ons staan of wie ons is nie, kan u gerus hier op ons webtuiste meer gaan lees oor ons party.
Laat jou stem werklik ‘n verskil maak. Stem vir CSA en help ons om ons menswaardigheid terug te win.